Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ʼn Dag in die lewe: Jabu Lukhele
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 03/05/2023

​Vir personeellid Jabu Lukhele behels 'n gewone werksdag om eerstejaar-chemiestudente te inspireer as een van die hoof- tegniese beamptes van die Departement Chemie en Polimeerwetenskappe. As 'n voormalige Latynse danser kry hy nou sy endorfiene van padwedlope en deur gehaltetyd saam met familielede en vriende deur te bring.

Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Hieronder verduidelik Jabu wat sy werk alles behels.

Wat behels jou rol by die US?           

My rol is veelvlakkig. Ek bestuur en organiseer praktiese chemieperiodes, asook eksperimente vir eerstejaar BSc-studente, chemiese ingenieurs (eerste- en tweedejaars), asook studente van die Uitgebreide Ontwikkelingsprogram.

Ek bestuur ook die eerstejaars se chemiegebou, bekend as die Algemene Chemiegebou. Ek is bevoorreg dat vier personeellede saam met my werk om seker te maak alles by die gebou verloop vlot en professioneel. Hierdie werk is te veel vir een mens.

Hoe lyk ʼn tipiese werkdag?

'n Dag by die werk is nooit voorspelbaar nie, al is daar 'n vasgestelde tydrooster vir die praktiese periodes wat ek elke dag bestuur en onderrig. Ek kom elke dag net voor 8 vm. by die werk aan en drink koffie terwyl ek e-posse lees. Ek het 'n oopdeur-beleid en talle studente kom dwarsdeur die dag met vrae daar aan. Daar is nooit 'n vervelige oomblik in my kantoor nie. Soms gebeur iets onverwags wat my onmiddellike aandag verg, soos 'n hyser wat nie werk nie of 'n geblokkeerde drein in een van die laboratoriums.

​Hoe het jou opvoeding of jou vorige ervarings jou vir hierdie rol voorberei?

Ek kom uit die private sektor, met ervaring in die chemiesektor, veral in die mynbedryf. Ek was al 'n laboratoriumassistent, 'n laboratoriumtoesighouer en 'n bestuurder. Voorts het ek 'n maatskappy besit wat met die mynsektor gewerk het, met die klem op veral ysterertsminerale. Ek was voorberei vir hierdie rol omdat ek in verskillende maatskappye gewerk het. Ek het met 'n BTech-graad in chemie hier aangekom en het sedertdien 'n MSc in toegepaste wetenskap in chemie behaal.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek geniet veral die interaksie met die studente. Om op die een of ander geringe wyse by te dra tot die vorming van die jong intellek van studente wat hiervandaan sal uitgaan en 'n verskil sal maak, verskaf my vreugde en die krag om elke dag wakker te word en werk toe te kom. Ek geniet dit ook om deel te wees van die transformasie wat binne die US plaasvind. Daar was baie vordering in hierdie verband sedert ek in 2014 hier begin werk het.

Ek is passievol oor die US se Chemie-uitreikingsinisiatiefprogramme (SUNCOI), waarvan ek sedert 2015 deel is. Dis 'n plesier om voorheen benadeelde skole te besoek om met kinders en onderwysers oor chemie te gesels. Ons kan vir hulle wys dit is moontlik om 'n uitstekende wetenskaplike te wees ongeag waar jy vandaan kom. SUNCOI bereik leerders wat chemie andersins nooit as 'n studie-opsie sou beskou het nie.

Vertel ons iets opwindends of interessants oor jouself wat min mense sou verwag?

Mense is soms verras as hulle uitvind wat ek doen, want met my dreadlocks en voorkoms lyk ek nie soos 'n tipiese wetenskaplike nie. Ek stel baie in die mode belang en is in my private lewe buite my werk by dié bedryf betrokke.

Ek was ook 'n professionele Latynse solodanser toe ek jonger was. Noudat dans nie meer 'n opsie is nie, geniet ek dit om te draf en het al aan talle wedlope as 'n lid van 'n drafklub deelgeneem. As 'n Christen hou my geloof – en my familie en vriende – my voete op die grond. 

Fotograaf: Stefan Els